liefde is… – graad 12

Liefde is…

 Die son glip weg agter die uitgestrekte landskap. Wolke gekleur met ‘n magiese verfkwas verhelder die oomblik. Die tromslane weerklink soos die nag homself bekend stel. Die ritme van Afrika boei haar inwoners soos hulle dans-dans die vuur omsingel. Singend en juigend op die maat van haar hartklop.

 Liefde is om met hart en siel aan ‘n plek verbind te wees.

 Die hoede dobber op en af tussen die rys-plante.  Mandjies gevul met onderdanigheid en hardwerkenheid. Alles vir ‘n groter doel; die Chinese droom. Die kommunis se wense is uitgespreek oor die nuutste selfone en groot skerms wat die stad bewaak, maar ook uitgespreek oor ‘n ou radio, hier waar die miskendes moet werk om nog ‘n dag van vrede en rustigheid vir hulle families te verseker.

 Liefde is om op te offer.

 In Londen verdring die gedruis die morbiede gees wat die Winter vergesel terwyl sy met haar traak-my-nie-agtigheid die son groet. Die klanke van “Swing low, sweet chariot” verrys uit die stadion terwyl duisendes aan hulle passie uiting gee terwyl twee-en-twintig figure die groen veld betree.

Liefde is om fanaties te wees.

Die strate van Rio is ‘n mengelmoes van kleure en klanke soos die jaarlikse karnival die hele stad meesleur. Volstruisvere pronk vermakerig terwyl jillende mense die feestelike atmosfeer indrink. ‘n Skouspel soos min ontvou onder die wakende oog van die Brasiliaanse son. Op die strand is twee jong verliefdes in ‘n vurige omhelsing gebind.

 Liefde is passievol.

 Die Kolloseum toring bo die stad uit. Toeriste neem verwoed foto’s terwyl die skadu’s oor Rome daal. Klipmure eggo die legendes van gister in die naglug. ‘n Ma vermaan haar kind met ‘n onverbiddelike blik, terwyl die sterre Van Gogh-kringe deur die hemelruim vorm.

 Liefde verheug hom oor die waarheid.

 ‘n Soldaat stap flink verby die klaagmuur in Jerusalem. Die idee dat hier twee duisend jaar gelede Iemand geleef het wat kom wys het wat liefde werklik is, vul die oomblik met heiligheid.  Die marteling, die omgee;  die lyding, die verstaan; alles deur ‘n Man wat volkome uit die Bron van Liefde geleef het.

 Wêreldse liefde is al hierdie dinge, ja, maar Jesus se liefde is dit en nog meer. Sy liefde is volkome, onselfsugtig en vir ewig.

 Liefde is… Jesus. 

Lewer kommentaar